MAART – DEURDRUK SKOONHEID

ancient antique arch architecture

Voel jy soms (of weet jy dit sommer) dat jy besig is om vas te val in ‘n groef? Dat jou kop, jou lyf, jou gedagtes en inspirasie, en jou gees, lyk soos ‘n ou skoolrooster op ‘n Vrydag? Geskiedenisklas vir die laaste twee periodes?

Jy is nie alleen nie. Selfs die geestelikste, heiligste, of mees dinamiese mense het hernuwing en vernuwing nodig. Dis amper soos om vir ‘n gesigbehandeling te gaan: Al die ou vel moet afgeskilfer word, sodat die nuwe gesuurstofde jy weer blink en vars kan verskyn.

Ons onthou die woorde wat ons ma’s vir ons gesê het: “Moenie jouself laat gaan na jou troue nie, dis die gouste wat ‘n man rondloop”. Wat beteken dit om jouself te laat gaan? Dit beteken die gewone dinge soos en mooi lyk, maar daar is iets dieper ook by betrokke. Dit beteken om jou algemene self-dissipline en goddelike lewenswyse van “matigheid voor oë” in die wind te slaan. Jou gym word belangriker as om saam met jou kinders te gaan stap. Jou vriendinne word belangriker as jou gebedslewe. Jy begin uitpraat in plaas van OP.

Wanneer dit gebeur, is die resultaat dat jy

  • nie meer langer voel asof jy ‘n stylvolle voorbeeld en verteenwoordiger van Jesus se Koninkryk is nie.
  • jy weet dat jy leef om te eet, en jy eet en drink nie meer om HOM te verheerlik nie (‘n vroutjie het eendag vir my gese: “Food should be a celebration to Jesus. There are so many hungry people”.)
  • jy verloor jou fokus op Jesus en jou naaste en jy voel skaam. Jou gewete skree vir jou.

Mens het natuurlik redes. Enige iets van geestelik (jou Bybel lê en vergader stof) tot emosioneel (jy voel bang, alleen en moeg) of dinge uit jou verlede jaag weer soos ‘n moeg hond agter jou aan.

Onthou jy die spreekwoord “Vrees is ‘n eenoog-monster?” Terwyl ek sit en tik aan hierdie bladsy, stuur ‘n  vriendin my ‘n boodskap.

“Doen dit al doen jy dit bang”.

En net daarna kry ek nog ‘n boodskap van iemand anders.

“The Lord tells me to check the fruit of my spirit”.

Het jy dringend ‘n emosionele en geestelike skoonheidsvernuwing nodig?

Om goddelike skoonheid en selfversekerdheid te hê, moet ons ‘n paar minute gaan sit en bietjie kalm reflekteer. Ons teenwoordige lewe, ons oorlog en ons frustrasies behoort aan Jesus. Hy weet die beste hoe om ons harte en emosies heel te maak, en nuwe hoop in omstandighede te bring.  Niemand van ons is lus om soos die wêreld te raak nie – heeltemal begogeld met voorkoms, lyf en “image”. Of om onsself aan alkohol en slegte mans oor te gee nie. (Ja, dit bestaan. 2 Timotheus 3: Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Mense sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af. Party van hulle dring in die huise in en kry liggelowige vroue wat met sonde belaai is en deur allerlei sinlike begeertes gedryf word, in hulle mag, vroue wat altyd iets wil leer, maar tog nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie.)

Ons is dogters van God. Uitverkiesdes. Bruide. Studente van die Heilige Gees, vriendinne van Jesus. Koningin Ester moes maar ook dieet – dit was die eerste ding wat met haar gebeur het toe sy in die paleis beland. Gesonde kos en gesonde roetines. Geen dogter van God kan die oorlog teen haar liggaam en emosies se drange, obesessies en krete om tog net raakgesien te word, laat heers oor wie sy regtig is nie. Sy kan eenvoudig nie bekostig om soos ‘n ongeredde Delila-verleidster te lewe nie. Kan ek jou vra: Hoe lyk jou geestelike dieet? ‘n Bietjie flouerig en dunnerig?

Geen wonder die Woord van God praat so baie oor OORWINNING nie. As jy lief is vir die Woord, drink jy dalk vir ‘n daggie water en kry jou gebedslewe in orde. Jy val, staan op, stof jou knietjies af en stap aan.

God wil hê dat elke vrou wat Hom roep emosioneel en geestelike moet kan groei.

Hy wil hê dat sy gelukkig en tevrede en veilig in haar eie liggaam voel.

So gemaklik, dat sy ophou obessief wees oor haarself, en uitreik na andere sonder om onwaardig, minderwaardig, onaantreklik, verslons, ongemaklik of verleë te voel. Dis ware selfrespek.

Ek weet wanneer ek op ‘n afdraende pad kom, voel ek soos die arme meisie op Die Vlakte duskant Hebron. Of soos Hettie van Verlangekraal. Die konsentrasie kamp mentaliteit dreig om deur te slaan, Sannie Jammer-vir-myself kan nie wag om droefgeestig te kla nie, en huil lyk na die enigste opsie. Geestelike vooruitstrewendheid val met ‘n plof in die stof, en armoede neem oor. In mens se verstand, uitkyk en gevoelslewe.

Dis ‘n LEUEN-LEWE. Want dis NIE wat die Bybel se nie.

Hoekom neem vrees en swakheid oor?

Want die vrug van die Heilige Gees is bietjie skaars. Net omdat dit besig is om winter te word, beteken nie jou gees moet nie vrug dra nie. God is nie besig om ons af te skeep nie. Als is nie besig om te “collapse” nie. Die Skepping is nie buite beheer nie. God verwag NIE die onmoontlike van ons nie. Dalk verwag Hy net iets NUUTS! En dan word ons flou as ons sien ons kinders rook en vry of Handy Andy is nou twee rand duurder. Nee man. As jy nog nooit iets probeer het nie, hoekom waag jy nie? Met die Here langs jou, kan jy nie verloor nie. Ons sing so maklik “ek is meer as ‘n oorwinnaar, ek is kragtig deur Sy gees wat in my woon”. Maar is dit REGTIG iets wat jy glo? En selfs as jy sou faal, klap God nie die troonkamer se deur toe en verklaar dat jy onteien is en jou erfdeel moet koebaai soen nie.

Dalk moet ons bietjie aandag gee aan “Die hart van ‘n oorwinnaar”…

Een van die beste gewoontes om te ontwikkel as God se kinders is om klaar te maak wat jy begin het. Ons wil God goed verteenwoordig in die wêreld – en God maak altyd klaar. ‘n Mens het ‘n DOEL nodig. En ‘n gevoel dat jy wel iets bereik het. Jy het nodig om te weet jy maak vooruitgang. Doodeenvoudig moet jy die dinge klaarmaak waaraan jy tyd en energie spandeer het. Afgehandelde take is ‘n teken van betroubaarheid en integriteit. Wanneer ons projekte en aktiwiteite onklaar los, mag ons begin voel dat ons mislukkings is, en andere kan voel dat hulle nie op ons kan pyltrek nie.

Die Bybel sê dat getrouheid (diligence and steadfastness) en determinasie baie belangrik is. Jesus sê in Lukas 14:28 dat as mens begin om ‘n wagtoring vir veiligheidswagte te bou, gaan sit jy nie halfpad en wonder of jy dit moet doen nie. Jy maak voor die tyd seker jy KAN dit doen deur te gaan sit en uitwerk of jy kan bekostig om dit te doen.

Ons vermoë om klaar te maak waarmee ons begin het, praat volumes met die mense om ons. ‘n Mens moet goed oorweeg voordat jy met ‘n taak begin, en seker maak jy maak klaar as jy eers begin het. Dit staan bekend as uitmuntendheid, integriteit, en effektiwiteit. Dan verteenwoordig ons Jesus goed.

Is jy dalk sommer lus om op te gee? Voel jy emosioneel en geestelik soos Andy Cap se Flor op ‘n maandagoggend, hare in die oë en slippers aan die voete?

Oorweeg weer. Vra jouself af of God regtig wil hê jy moet nou opgee. Tensy jy seker is dat HY sê dis tyd om handdoek in te gooi, moedig jouself aan om deur te druk. Die enigste rede hoekom ons ooit mag opgee op iets, is omdat ons êrens langs die pad agterkom dat ons besig is met iets wat God nie gesê het ons moet doen nie.

Waarmee jy ookal besig is, vra jouself: HET EK MYSELF VAS VOORGENEEM OM KLAAR TE MAAK WAT EK BEGIN HET?

As jy nie het nie, gaan bid oor die saak en maak jouself weer vas aan God. Maak klaar wat jy begin het.

JY KAN VANDAG NOG DIE HART EN GEES VAN ‘N WENNER HE!!!

Gebed: Here, help my om projekte en aktiwiteite wyslik aan te pak. Help my om U wil te soek voor ek iets doen. En wanneer ek iets begin, help my om dit klaar te maak tot op die einde. Amen.

Hooglied 4:7:  “My beminde, alles aan jou is mooi. Daar is geen fout aan jou nie.”

Advertisements

Published by

Andri

Writer, thinker and doer

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.